Zinèt Oosthuizen het reeds op ʼn jong ouderdom die betowerende wêreld van verhale ontdek en terwyl sy ʼn passie vir lees en skryf het, bestee sy die meeste van haar tyd aan finansiële bestuur.
In haar vrye tyd geniet sy die eenvoudige dinge van die lewe, en wanneer sy saam met haar familie ʼn welverdiende vakansie neem, is daar altyd ʼn paar romantiese liefdesverhale versteek in haar tas. Lees en skryf laat haar toe om te ontsnap van die haastige wêreld daarbuite, en sy vind vreugde daarin om deur die bladsye van verhale te dwaal.
Anelia le Roux wil nes haar oorlede pa ʼn joernalis wees. Haar nuwe werk by Nuus-Direk bied egter net uitdaging op uitdaging. Sy waai op ʼn winderige dag tydens ʼn nuusberig teen die navorser Leon le Hanie vas. Daar is onmiddellik ʼn wilde aantrekkingskrag tussen die twee en Anelia raak gou halsoorkop verlief. Maar hoe voel hý oor háár?
Intussen het Anelia ʼn nare ondervinding met een van haar kollegas. Leon se geheimsinnige optrede laat haar ook wonder of hy nie iets vir haar wegsteek nie. Mettertyd ontdek hy nuwe inligting oor haar pa se sogenaamde selfdood. Dan vertel iemand haar dat Leon doelbewus die inligting aan die media verkoop het om sy eie loopbaan te bevorder en haar hele lewe word aan die wêreld oopgevlek. Gaan sy vir Leon ʼn kans gee om sy optrede te verduidelik?
Celine van Wyk kan nie glo waarvoor sy, ʼn bedorwe rykmanskind, haarself ingelaat het nie. Om alleen te kom kamp om ‘haarself te kom vind’ was beslis nie ʼn goeie idee nie! Veral nie toe ʼn twee dae lange storm die oord oorstroom en sy haar kampeerders-vrygewigheid moet bewys deur haar irriterende, enkellopende buurman te huisves nie. Een wat soggens al vroegoggend lang glase tuisgebroude bier begin drink. Soos met alles in haar lewe is sy egter vasbeslote om die kampervaring, sowel as die ongewenste gas, baas te raak. Waarmee sy egter nie tred hou nie, is dat haar hele lyf begin vonkel as die aantreklike Franco net in haar rigting kyk, maar sy probeer die vuur vinnig blus toe sy uitvind dat hy reeds vir iemand anders beskore is. Maar hoekom vlam dit steeds telkens op?
Die welberoemde aktrise Ferri-Lynn is totaal en al onbereikbaar vir enige man, daarom verkies sy om die paparazzi nie onnodige ammunisie te gee nie. Die noodlot gryp egter in toe ʼn aantreklike boer haar juis van die snuffelhonde red tydens ʼn stapekspedisie in die berge, onwetende met wie hy eintlik te doen het. Groot is haar verbasing toe sy sien dat Jason die eienaar van die perdeplaas is waar sy haar volgende film moet skiet. En hierdie einste man moet haar help om haar ewige vrees vir perde te oorwin om haar loopbaan se sukses te verseker. Jason doen sy bes om haar te help toe meer as net haar verlede oopgevlek word. Ferri-Lynn besluit om weg te kruip by haar ouers op ʼn klein plaasdorpie, maar dit vergemaklik nie dinge as Ferri-Lynn vermoed dat juis Jason die fluitjieblaser is nie.
Na ʼn kort vakansieromanse het die sorglose tiener, Tasha de Winter, bekend geword as die Wintervrou. As regisseur in ʼn onversetlike manne-bedryf het sy goed naam gemaak, maar tyd en lus vir liefde, was daar beslis nie. Totdat haar wêreld geskud word toe sy die einste Ockert Meyer vyftien jaar later op stel sien. En het hy nie aantreklik geword nie! Die hele Suid-Afrika se vrouens dink blykbaar ook so, want daar is altyd ʼn nuwe vrou aan sy sy.
Teen haar beterwete smelt haar winterhart teenoor hom en sy gee hom ʼn kans op een afspraak. Dit blyk ʼn groot fout te wees, want kort daarna sou sy besef dat dit nie so maklik is om die tyd terug te draai nie, veral nie as dit boonop beteken dat haar toekoms handomkeer verander nie.
Koelkop pediater, Lizé Koch, het die enorme taak om haar grootouers se meerhuis langs die vakansieoord op te pak. Elke oomblik is pure marteling, want sy sien nie haar toekoms sonder hierdie stukkie hemel nie. Vakansieganger en eiendomsagent, Divan Huyser, se oorheersende persoonlikheid oorrompel haar, asook haar planne, toe hy aanbied om haar te help. Vinnig besef sy daar is ʼn fyn lyn tussen help en oorneem, want Divan se selfversekerde persoonlikheid laat nie ruimte toe vir enige emosie nie. Sy, daarenteen, word vasgevang in ʼn allesoorheersende, oorweldigende gevoel van liefde en die besluit om beheer oor te gee en in te gee vir haar emosies, het gevolge wat lei tot veeleisende risiko’s, weerloosheid en onsekerheid.
Vanaf die eerste oomblik wat onderwyseres Millé Briers vir medekollega Albert Hamman ontmoet, spat die vonke behoorlik. Soveel só dat die vurige rooikop nie kan besluit of die aantreklike sportonderwyser ʼn buffelagtige seerower of haar eie Franse ridder is nie. Uiteindelik gee sy toe, maar haar geluk is van korte duur toe onsmaaklikhede hulle verhouding kelder. Sy staan voor moeilike keuses wanneer sy besef dit is onmoontlik om dag na dag die man van haar drome te sien, want om te leer van die liefde, is een van die moeilikste skoolvakke wat sy nog ooit moes slaag.